|
|
Kom toer saam Madeira PORTUGAL SPANJE Gibraltar & Majorka
Vertrekdatum: Sondag, 16 September 2012 |
![]() |
|
BUITELYNE VAN ONS REISPLAN
(O)-Ontbyt (A)-Aandete (*)-Ete aan boor die vliegtuig
|
||
Dag 1: Sondag, 16 September
JOHANNESBURG – MADRID
Ontmoet mekaar om 19:00 by die Iberia toonbank in die Internasionale vertreksaal van die Johannesburgse O.R. Tambo Internasionale Lughawe. Vertrek om 22:05 na Madrid. Aandete en oornag aan BOORD (A*)
Dag 2: Maandag, 17 September
MADRID – LISSABON – MADEIRA
Stryk om 07:25 in Madrid neer en sluit aan by die vlug wat om 09:00 na Lissabon verterk. Arriveer om 09:15 in Lissabon en sluit aan by die vlug om 12:45 na Funchal in Madeira. Met u aankoms om 14:35 word u op die lughawe ontmoet en na u hotel geneem. Aandete en oornag in FUNCHAL (O*)(A)
Dag 3: Dinsdag, 18 September
MADEIRA
Funchal is die hoofstad van Madeira, die eilandgroep wat sowat 1100km Suid-Wes van Portugal geleë is. Die Madeira eilande bestaan uit twee bewoonde eilande - Madeira en Porto Santo; en twee onbewoonde eilande - Desertas en die Salvagens. Madeira is die grootste eiland en strek 55km van Noord na Suid en is 22km wyd. Vertrek per luukse toerbus op ‘n oriëntasietoer van Funchal en besoek die plaaslike mark waar ‘n wye verskeidenheid vis, vrugte en groente te koop is. Die borduurwerk – fabriek van Pattricio & Gouveia met sy blomme en plante is volgende op die program. Hierdie unieke Madeira handwerk tel onder die mees uitstaande gehalte ter wêreld. Geniet ‘n asemrowende uitsig oor Funchal voordat ons besoek bring aan die klein dorpie Monte wat sowat ses kilometer vanaf Funchal geleë is. Daar is geleentheid om met die Toboggan, ‘n rottangsleë, die opsionele terugrit na Funchal aan te pak. Oorplasing na die hotel. Aandete en oornag in FUNCHAL (O)(A)
Dag 4: Woensdag, 19 September
FUNCHAL
Na ontbyt vertrek ons op ‘n toer van die eiland. Reis met die Estrada Monumental langs en bring besoek aan Camara de Lobos, die dorpie waar Winston Churchill tyd in Madeira deurgebring het om te skilder. Besoek Gabo Girao, die tweede hoogste seekrans in die wêreld. Reis verder met die Suidkus langs en daar word stilgehou by die pragtige Ribeira Brava. Hierdie kleurvolle omgewing word gekenmerk deur sy talle vissersbootjies. Volg die onvergeetlike roete wat uit die steil wande gekap is na Paul da Serra en skilderagtige Porto Moniz waar natuurlike swempoele tussen die vulkaniese rotse te sien is. Dan volg die vallei-dorpie Sao Vincente. Die roete neem ons verder deur die uitspattige Weskus na Encumeada vanwaar beide kante van die eiland gesien kan word. Reis verby Chao Dos Lourdos wat gedeeltelik deur die Laurissilva Woud omring is – ‘n unieke verskynsel. Reis oor die dorpie Serra d’Auga terug na ons hotel in Funchal. Vanaand se hoogtepunt is die besoek aan ‘n ongewone Madeiriese restaurant vir ‘n tradisionele Madeira “Espetada” ete met kleurvolle volksdanse en vrolike sang. Espetada is beesvleis met kruie wat oor ‘n oop vuur gebraai word, warm brood, gemengde slaai, aartappels, goeie wyne, vars vrugteslaai, koffie, brandewyn of Portugese likeur. Sluit die aand af met ‘n besoek aan die uitkykpunt Pico dos Barcelos vanwaar die stadsliggies van Funchal te sien is. Oornag in FUNCHAL (O)(A)
Dag 5: Donderdag, 20 September
FUNCHAL – LISSABON
Na ontbyt word u na die lughawe oorgeplaas vir die 12:45 vlug na Lissabon waar ons omstreeks 14:35 neerstryk. Lissabon is die hoofstad van Portugal en is in 1755 deur ‘n aardbewing vernietig. Die stad is herbou en die besigtigingstoer van Lissabon sluit hoogtepunte in soos die bekende Rossio plein, die elegante Avenidi de Liberade en die antieke Alfama kwartier wat met klippe uitgelê is. Sien die indrukwekkende Navigasiemonument wat gebou is ter herdenking van die eerste ontdekkingsreise asook die nabygeleë Belemtoring waarvandaan bekende Portugese ontdekkingsreisigers soos Vasco da Gama vertrek het. Aandete en oornag in LISSABON (O)(A)
Dag 6: Vrydag, 21 September
LISSABON – SEVILLE
Vertrek vanoggend deur Setubal en reis na Grandola. Die roete neem ons deur Alenteio met sy vrugbare grasvelde en kurkboom woude voordat die grens na Spanje oorgesteek word. Geniet die omgewing van die Sierra de Aracena op pad na die feestelike stad Seville. Aandete en oornag in SEVILLE (O)(A)
Dag 7: Saterdag, 22 September
SEVILLE – GIBRALTAR – COSTA DEL SOL
Die kort besigtigingstoer van Seville begin net na ontbyt. Seville is ‘n kleurvolle stad wat ‘n belangrike rol gespeel het in Romeinse tye, die verowering van die stad deur die Moore en die ontdekking van die “Nuwe Wêreld”. Seville spog met die poele en die fonteine van Maria Luisa Park, die Plaza de Espana, die goue toring by die Guadalquivir rivier en die unieke Barokgebou wat nou as die universiteit dien. Totsiens aan Seville en vertrek deur die sonnige sjerrie wynland van die Costa de la Luz na Gibraltar. Daar is geleenthied om hierdie strategies geleë rotsvesting wat sedert 1704 in Britse hande is, te besoek. Reis verder na die Costa del Sol. Oornag in RICON DE LA VICTORIA (O)(A)
Dag 8: Sondag, 23 September
COSTA DEL SOL – GRANADA
Kies vanoggend koers na Granada wat aan die voet van die Sierra Nevada gebergte geleë is. Onderneem ‘n stadstoer van Granada wat hoogtepunte insluit soos die voortreflike Alhambra Paleis. Hierdie paleis is die mooiste Moorse gebou in Spanje en voormalige woonplek van die Moorse konings. Oornag by ons hotel in GRANADA (O)(A)
Dag 9: Maandag, 24 September
GRANADA – PURULLENA – VALENCIA – MAJORKA
Vertrek vanoggend na ontbyt en steek die Mora Pas oor. Reis verby Purullena, bekend vir sy grot-wonings wat in die sagte Tufsteen uitgekap is. Verder deur Murcia en Alicante met sy paragtige esplanade en reuse palmbome. Ons bestemming is die hawe in Valencia waar daar aan boord van die oornagferrie gestap word. Die ferrie vertrek om 22:30 en u oornag aan boord die FERRIE (O)
Dag 10: Dinsdag, 25 September PALMA
Arriveer vroegoggend in Palma, die hoofstad van Majorka. U word ontmoet vir ‘n besigtigingstoer na Porto Christi wat een van die mooiste dele van die eiland is. Daar is geleentheid vir inkopies in die goedkoopste plek in Spanje. Leerware, skoene, handsakke, baadjies en die bekende Majorka-pêrels is eenvoudig ‘n moet. Keer terug na Palma vir aandete by u hotel. Oornag PALMA (A)
Dag 11: Woensdag, 26 September PALMA – BARCELONA
Dag vry om Majorka op eie stoom te verken. U kan gerus die geskiedkundige 13e eeuse Gotiese Katedraal besigtig. Die Almuda Paleis en die Bellver Kasteel wat in die 14e eeu deur koning James II gebou is kan ook besoek word. U kan ook ‘n opsionele ekskursie per trein na Sóller meemaak. Die trein gebruik steeds ou houtwaens en die spoor vleg deur die Tramuntana berge met ‘n lieflike uitsig. In Sóller neem ‘n nostalgiese tremrit u dan na die pragtige hawe Puerto Sóller. Die sonsoekers kan op die gewilde strande ontspan waar die glashelder water louwarm is. U word vannaand na die hawe oorgeplaas vir die ferrie wat om 23:30 na Barcelona vertrek. Oornag aan BOORD(O)
Dag 12: Donderdag, 27 September BARCELONA – SARAGOSSA
Arriveer vroegoggend in Barcelona. Vertrek per luukse toerbus op ‘n besigtigingstoer van die stad. Barcelona is die tweede grootste stad in Spanje waar die Olimpiese Spele in 1992 gehou is. Besoek die Columbus monument en ry met die elegante Ramblas en sy boomryke sypaadjies langs. Sien die asemrowende katedraal en die historiese geboue in die Paseo de Gracia. Die antieke Gotiese buurt en Gaudi se ongewone “Sagra Familla” is maar ‘n paar van die hoogtepunte. Vertrek na Saragossa, die geskiedkundige tuiste van die voormalige konings van Aragon. Aandete word by u hotel bedien. Oornag in SARAGOSSA (A)
Dag 13: Vrydag, 28 September SARAGOSSA – MADRID
Onderneem ‘n besigtiginstoer van Saragossa en sien die elegante plein, Plaza del Pilar. Sien “Our Lady of the Pillar” voordat ons koers kies na die Spaanse hoofstad. Reis verby die Moorse dorp Calatayud. Welkom in Madrid - die stad van die flamenco dans, kleurvolle feestelikhede en Moorse argitektuur. Oorplasing na die hotel vir aandete en oornag in MADRID (O)(A)
Dag 14: Saterdag, 29 September TOLEDO – MADRID
Die besigtigingstoer van Madrid sluit hoogtepunte in soos ‘n panoramiese rit met die Avenida Mayor langs, Puerto del Sol, parlementsplein, en tyd vir foto’s by die koninklike paleis. Sien die Cibeles fontein en Espana plein met sy monument aan Cervantes. Vertrek dan na Toledo, die unieke ommuurde stad op die oewers van die Tagus rivier. Toledo was eens die hoofstad van Spanje en is op ‘n heuwel geleë. Toledo is vandag nog soos ‘n groot opelug museum van Spaanse geskiedenis en kultuur. Besoek die Moorse brug, ‘n vroeë Sinagoge, die 13e eeuse Gotiese Katedraal en die kerk van Santo Tomé met een van die gewilde skilder El Greco se bekendste skilderye. Geniet ‘n afskeidsete in Madrid voordat ons na die lughawe geneem word vir die terugvlug na Suid-Afrika wat net na middernag om 01:30 vertrek. Oornag aan BOORD (O)(A)
Dag 15: Sondag, 30 September JOHANNESBURG
Stryk om 11:35 in Johannesburg neer (O*) - Víve la Spanje!
TOERPRYS: R34 737 per persoon gebaseer op R10,80 = EUR1,00 en ‘n minimum van 22 passasiers wat saamreis
Lugreisgeld: R9 897 / Landreëlings EUR2 300 / R24 840
|
Ingesluit:
|
Nie ingesluit:
|
|
• Ekonomiese retoervlugte met IBERIA insluitend lughawebelasting en
brandstofheffing
• Etes soos per program: (O)- Ontbyt (M)-Middagete (A)-Aandete
• Vierster toeristeklas akkommodasie met privaatgeriewe
• Engelssprekende lokale toergidse en luukse busvervoer
• Besigtigingstoere en ingangsfooie soos per program
|
• Enkelkamer (Opsioneel) EUR$65 per nag
• Fooitjies aan toergidse, busbestuurders
en portiere EUR6 per dag
• Schengen visumkostes
• Reisversekering
|
Vir nadere besonderhede, kontak
Feesia van der Colf
Posbus 44492, LINDEN 2104
Tel: (011)678-1536 of 082 876 1421
